Vrydenker s.nw. Persoon wat alle dogmatiese gelowe verwerp, vrygees. (HAT)
“Vry denke” is die teenoorgestelde van aangeleerde bygeloof. As hierdie verduideliking jou laat welkom voel, is jy inderdaad welkom.
Bygloof s.nw. Geloof wat natuurlike en bonatuurlike vermeng. (HAT)
Net om seker te maak ons verstaan mekaar: Bygeloof sluit in enige oortuigings dat ‘n onwaarneembare bonatuurlike die natuurlike werklikheid beïnvloed, soos die bestaan en invloed van siele, duiwels, voorbodes, lewe na die dood, auras, eenheid met die heelal, sterrewiggelary, homeopatie, geselsies met “die ander kant”, geloofsgenesing, gebed of enige onwrikbare siening wat aanspraak maak op ‘n verbeelde nie-materiële aspek van die Werklikheid.
Sluit dan daarby in die gewilde wanopvattings en foefies rakende die materiële sy van dinge (bv dat suiker kinders hiperaktief maak, vitamien C en kruiemiddels verkoues kan voorkom en godsdiens nodig is vir moraliteit) en jy begin verstaan waar ons verskil van Jan Alleman, en wat ons amusant. ergerlik of irriterend vind afhangend van die situasie.
MAAR: Religie, soos vele ander uitrdukkings van menslike versugting, is ’n baie algemene menslike verskynsel. Om dit te probeer verban is onmoontlik en diktatoriaal. Daar moet ruimte vir geloof en persoonlike oortuigings gelaat word, solank dit nie op ander afgedwing word nie, kinders sonder hulle ouers se goedkeuring indoktrineer word nie, geloofsoortuigings nie bo wetgewing en goeie demokratiese beginsels verhewe word nie en die werklikheid (insluitend getoetsde wetenskaplike bevindinge) nie weggewens of onderduk word nie.
Van ons beste vriende is gelowiges…!
(Leesgieriges word aangeraai om Dr. David Comings se boek, Did Man Create God? te lees. Hierdie boek is waarskynlik die mees volledige enkele gids tot alle fasette van die godsdiensverskynsel en die wetenskapskennis wat dit in perspektief stel. Lees resensies hier. Vir ‘n eenvoudiger en minder tegniese boek, byna in dagstukkie-formaat, lees gerus Guy P Harrison se 50 Reasons People Give for Believing in a God – resensies hier).
Waardering vir hierdie blad: